'n Leeftyd Later
2026 · Elektroniese Afrikaanse Dansmusiek
Die eerste keer wat ek Gouryella gehoor het, het iets in my wakker geword.
Ek onthou nog presies hoe dit gevoel het. Dit was nie bloot musiek nie. Dit het gevoel soos 'n wêreld waarin mens heeltemal kan verdwyn. Die sintetiseerders, die groot oop klank, die melodieë wat aanhou opstyg en beweeg, die gevoel van ruimte en emosie daarin. Dit was die eerste keer dat ek werklik besef het elektroniese musiek hoef nie koud te wees nie. Dit kan menslik wees. Dit kan herinneringe wakker maak. Dit kan jou laat verlang na plekke waar jy nog nooit was nie.
Daardie aand het een gedagte aanhoudend by my bly spook.
"Wat as Afrikaanse musiek ook só kan klink?"
Nie net soos wat mense gewoonlik verwag nie. Nie net kitare, volksmusiek of bekende patrone nie. Ek het begin wonder hoe dit sou klink as mens die emosie van elektroniese musiek vat en dit met 'n Suid-Afrikaanse gevoel meng. Hoe sou dit klink as die musiek soos stofpaaie voel, soos berglug vroegoggend, soos reën op warm grond of soos lang paaie onder 'n sterrehemel?
Daardie gedagte het nooit weer weggegaan nie.
In die begin het ek sterk beïnvloed geklink deur die kunstenaars waarna ek geluister het en aanvanklik praat 'n mens nog met iemand anders se stem voordat jy jou eie vind. Maar soos die tyd aangegaan het, het ek besef die belangrikste deel lê nie daarin om Europese trance bloot in Afrikaans oor te doen nie. Dit moes iets word wat opreg Suid-Afrikaans voel.
Ek wou hê die musiek moes soos hierdie land asemhaal — nie net deur die woorde nie, maar deur die atmosfeer self. Die ooptes van die land, die stilte van vroegoggend, kampvure in die aand, bergpasse en die reuk van rook in koue lug.
So het die album stadig begin vorm aanneem. Nie as los liedjies nie, maar soos een lang reis waarin elke deel met die volgende een verbind is.
Hierdie lied het ontstaan uit die gevoel van beweging. Ek het baie gedink aan vroegoggend-fietsry in Sabie en die bergpaaie in die plantasies.
Daar is iets besonders aan daardie wêreld vroeg in die oggend. Die mis hang laag tussen die bome. Alles voel stil, maar terselfdertyd lewendig. Jy hoor jou asemhaling. Jy hoor wiele oor grond en klippe dans. En dan kom die oomblik wanneer jy begin afdraand ry en alles skielik vinniger word.
Daardie gevoel van vryheid het die lied geword.
Aanvanklik was dit net 'n gedagte waarmee ek gespeel het — hoe sou 'n bekende Afrikaanse volksmelodie klink binne 'n moderne elektroniese wêreld?
Maar hoe langer ek daarmee gewerk het, hoe meer het ek besef hoe sterk daardie oorspronklike melodie eintlik is. Dit het nie verlore geraak tussen die sintetiseerders nie. Inteendeel — dit het gevoel asof dit nog altyd daar hoort.
Afrikaanse musiek het baie meer ruimte as wat mense dink. Jy hoef nie tradisie weg te gooi om iets nuuts te maak nie. Jy kan die wat oud is vat en dit op 'n nuwe manier laat leef.
Ek dink baie mense leef vir daardie oomblik sonder dat hulle dit besef. Die week tap jou kragte stadig leeg. Werk, verkeer, skerms en eindelose geraas.
En dan kom Vrydagmiddag. Skielik haal mense weer asem. Die son voel anders. Die atmosfeer is ligter. Iemand vra wat vanaand se planne is. Vir 'n ruk vergeet almal van probleme tot Maandag.
Ek wou daardie diep sug van verligting vasvang met die snit — nie bloot die idee van kuier of partytjie hou nie, maar die wete dat die swaarste deel van die week verby is.
Vir my gaan hierdie lied oor stilte. Nie stilte as die afwesigheid van klank nie, maar die soort stilte waarin mens weer by jouself uitkom.
Ek het dit baie ervaar tydens vroegoggendoefening en hardloop. Voor die verkeer begin. Voor oproepe en boodskappe. Voor die wêreld begin raas.
Net jy en jou gedagtes. Ek dink baie mense verloor daardie verbinding met hulleself sonder dat hulle dit besef. Die lied probeer iets van daardie rustigheid terugbring.
Die beste tyd van die jaar het sy eie klank. Dié snit lewe in die ruimte tussen die laaste werkdag en die eerste dag wanneer jy besef jy hoef nêrens te haas nie.
Dit gaan oor die Suid-Afrikaanse somer — lang dae, oop paaie, die son wat laat sak, en die gevoel dat tyd vir 'n ruk ophou met sy gewone gang.
Speel dit hard op die pad Weskus toe. Of Tuinroete. Of waar ook al jou hart jou lei.
Partykeer leer mens die meeste uit moeiliker tye, wanneer jy moeg raak, wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie.
Elke mens dra iets binne hulle wat aanhou brand, selfs wanneer alles rondom hulle stil of swaar voel. Partykeer 'n groot vlam; ander kere net 'n kooltjie wat skaars gloei.
Daarom begin die lied stadiger. Maar soos dit ontvou, breek lig deur. Die sintetiseerders raak groter. Die ritme begin opstyg. Soos iemand wat stadig weer sy voete vind.
Hou aan! Staan vas! Staan op! Skree hard en skud die mure!
Op die album wou ek ook ook die eenvoudige goed vasvang waarvan ek hou, soos die gevoel van 'n lekker kamp en die atmosfeer van kamp. Meer spesifiek:
Baie van goeie herhinneringe kom juis uit sulke oomblikke.
So baie van ons tyd word opgeneem deur tegnologie. Alles soek aandag. Mense blaai eindeloos sonder om werklik iets te beleef.
Ek wou hê die lied moes effens ongemaklik voel: herhalend, meganies, soos iets wat jou vasvang. Die ritme beweeg amper soos 'n masjien wat nooit rus nie.
Maar die boodskap is eenvoudig: Gaan leef weer. Gaan kyk na die wêreld. Gaan sit langs 'n vuur. Gaan kyk hoe lyk die lug wanneer die son sak. Want dit is waar regte herinneringe gemaak word.
Hierdie lied het uit 'n baie spesifieke idee ontstaan — daardie oomblikke wanneer iets jou onverwags terugvat na 'n ander tyd in jou lewe.
Ek het een aand buite gestaan en na die sterre gekyk. Dit het my getref dat van die lig wat ons vanaand sien, jare gelede reeds sy reis begin het. Teen die tyd wat dit ons bereik, het die wêreld reeds verander. Mense het verander. Lewens het aangegaan.
Herinneringe werk amper dieselfde. Sekere oomblikke bly lank voortleef nadat hulle verby is as herhinneringe en raak op so manier deel van jou.
Hierdie lied het begin as iets waarmee ek net pret gehad het. Maar hoe meer ek daarmee gewerk het, hoe meer het die karakter begin vorm aanneem.
DJ Wors het amper soos 'n tipe Suid-Afrikaanse legende begin voel: die man wat al by elke dorpsaal, troue, fees en sokkie musiek gespeel het. Nie noodwendig bekend nie, maar altyd daar.
Toe die snit klaar was dit meer soos 'n brief aan al die onbekende kunstenaars wat die land se kultuur lewendig hou — mense wat aanhou skep bloot omdat hulle lief is daarvoor.
Die titelsnit gaan oor tyd. Hoe lank dit vat om iets betekenisvol te bou. Hoe lank dit vat om jou eie stem te vind. Hoe maklik mense dink die belangrike dele van die lewe lê altyd iewers vorentoe.
Die ironie is dat die lewe reeds besig is om te gebeur terwyl ons wag. In klein oomblikke: 'n stil oggend, 'n lang gesprek, 'n vuur in die aand of 'n lied wat onverwags iets in jou wakker maak.
Ek wou hê die laaste snit moes voel soos die einde van 'n lang reis. Nie dramaties nie. Nie swaar nie. Net eerlik. Soos daardie stil oomblik laat in die aand wanneer alles uiteindelik rustig raak en jy terugkyk na die pad wat jy geloop het.